Kanonne, Trekkers en BellaDonna.

Hoe gemaak as n Seilskip van ouds na n reis van etlike maande vanaf Europa kom vasmeer by die Kaapse Hawe – en daar is nie lekker Varsprodukte om in te skeep vir die res van die reis?

Plan : Stel die Boere in die Platteland in kennis hulle moet hulle se waens laai en haas na die Hawe aan de Waterkant van Kaapstad.

Probleem :  Die N2 is nog net n kronkel grondpad en Ossewaens het nie beskik oor Turbo-aanjaers. Hoe gemaak om die boodskap van die Boot in die Hawe so gou moontlik by die Produsente uit te kry?

Dis die 1700’s en die Internet met sy vertakkings van FaceBook en Twitter is slegs die droom van Wetenskapfiksie Skrywers.

Dus – Hoe gemaak?!

Maklik. Skep n reeks van kanonne – strategies geplaas op heuwels vanaf Seinheuwel in Kaapstad

image

 

kuslangs tot selfs so vêr as Swellendam ( vandag met die N2 meer as 200 km vanaf die Moederstad!).

En die kanonne bulder – die boodskap versprei en die waens is op pad!

So vat ons dan onlangs dieselfde pad om te gaan kuier by Vrinne in die symste Swellendam. Maar Kobus was nie verniet in sy vorige lewe n Geskiedenis Onnie nie –  Hy en Brenda wag ons in net anderkant die afdraai na Stormsvlei ( tussen Riviersonderend en Swellendam ) om uit te wys dat daar – langs die pad ( ongelukkig op privaat grond en bietjie versteek agter lang gras ) is een van die voormelde netwerk van Kanonne

image

Na hierdie verrassende ontdekking was dit dan ook gepas om ( soos talle Transportryers van ouds ) af te draai en n “oorbrugginkie” te gaan nuttig by die Stormsvlei Bistro ( voorheen bekend as die Stormsvlei Hotel – en soos die bekende Houwhoek Inn naby Grabouw een van die oudste Herberge op hierdie “wagen weg”)

image

 

Hendrik Swellengrebel was die eerste Suid Afrikaans gebore Goewerneur van die destydse Kaap die Goeie Hoop – en heel gepas is ons uiteidelike bestemming nl Swellendam vernoem na hom en sy Wederhelf Helena van Damme.

En benewens dat Swellendam die derde oudste Magistraatsdistrik in SA is – was dit ook een van die eerste radikale pogings om te ontsnap van die sg “Kaapse Juk” van korrupte bestuur deur die Amptenare van die VOIC ( het enigiets sederdien verander?! Ek vra maar net ).

Die Republiek van Swellendam word dus gestig in 1795 – maar is egter van korte duur en kom tot n einde met die besetting van die Kaap in 1802 deur Groot Brittanje.

Ons is weereens beïndruk hoe n pragtige plek is Swellendam – geleë aan die voet van die Langeberge

image

Binne trefafstand van Swellendam is ook Montagu – en in dié se buitewyke op die pad na Touwsrivier en net daar waar die Burgerspas sy draaipunt maak vind jy die afdraai na Protea Plaas ( na ses geslagte steeds in die Burger Familie se besit ) en waar ons uitgenooi word om n vierwiel Trekker en sleepwa te bestyg ten einde op te kruie na die hoogste punt van die Langeberge.

Maar o wee – Marinda het haar gordel ( vir dié wie ek nou verloor het : ook bekend as n belt ) by die huis vergeet. Waaraan gaan sy haar geliefde Kamera hang?

En sy soek – selfs in die Boer se Stoor : maar daar kry sy niks wat sal werk – net Baaldraad,Bloudraad en Doringdraad.

Gelukkig kom Kobus tot haar redding – hy bemerk n stuk tou wat dalk kan werk en siedaar! Nou kan  selfs die Drakensberge maar kom

image

 

Almal nou gereed?! En daar kruie ons teen die berghang uit totdat ons by die halfpadmerk al hoër is as Tafelberg!

image

Heelbo het ons n ongelooflike uitsig : Ons is op die kruin van die  Langeberge en aan die oorkant is die Waboomberge – en dit vorm vanaf Montagu tot kort duskant Touwsrivier n vallei bestaande uit die sg Keisie en die Koo

image

Die Keisie lê Montagu se kant toe, is duidelik laer en is dus blykbaar meer geskik vir druiwe ens.

n Trappie hoër is die Koo vallei – veral bekend vir steenvrugte soos Perskes, Appelkose, Appels en Pere

image

Net voordat ons egter die afdraand aandurf word ons trakteer op n glasie waarvan David Kramer ons jare gelede bewus gemaak het : Montaguuu …. Ons drink jou Muskadel!

image

( Redakteur : Marinda vertrou klaarblyklik nie die trekker se remme met die afrit !).

Daar was n paar maande terug n verwoestende brand in die omgewing en gevolglik is die berghange kaal. Die Proteas neem blykbaar ses jaar om weer te kan blom – maar die natuur is soepel en n bietjie reën sal sekerlik sorg dat die res van die veld spoedig herstel.

En dan is daar natuurlik sommige bolplante wat eintlik net blom na n brand. Noem dít nou n simbiose!

image

Die sg Brandlelie ( Cyranthus ventricosus ) het oral dapper deur die barre aarde gebeur en ons vermaak.

 

Ons sal graag weer die Trekker bestyg – veral na die veld genoegsaam herstel het. Blykbaar is Laatwinter perfek om die Proteas in hul volle glorie te aanskou.

 

NS En die BellaDonna in die Aanhef?

Lees volgende keer verder.

 

Kuier by die KapélMeester #2

Die Donkie is aldus wyle Oom Chris Blignaut ( en meer onlangs Vusi Mahlahlela ) beslis n wonderlike ding.

Getem in Egipte so lank terug as 3000 vC ( ek wonder of Josef een vir sy 21ste gekry het )  het hy ten spyte van sy hoogdrawende naam nl Equus Africanus Asinus spoedig n Wêreldburger geword – soveel so dat Vaaltyn hom met verloop van tyd selfs in die Tankwa gevestig het :

image

Die KapélMeester en sy assistent Nina voer lekkernye vir Vrystaat en Kleintjie-Meis.

Die name waarmee Donkies ( veral in die Karoo ) toegerus word kan n Aflewering op homself wees – maar vergun my om in hierdie verband te volstaan met n storietjie wat ek al meermale oorvertel het :

Dana Snyman woon die jaarlikse Donkiekar Resies by gereël deur die mense van die Tankwa Padstal – en hy vra vir Oom Mike Doman hoekom sy een Donkie dan genaamd is Brander?

En hy antwoord : “Brander het ek Brander genoem – omdat ek hom Brander wou noem. En toe noem ek hom Brander”.

Sela.

Maar indien Vrystaat en Kleintjie-Meis op n dag onwillig is om ingespan te word is daar gelukkig alternatiewe vervoer op Klein – Kapél

image

Wurgie was die sg “Deal breaker” toe die KapélMeester nog gewik en geweeg het of hy wel Klein Kapél moes koop – en daar bel die vorige Eienaar en bied aan dat Wurgie ingesluit is by die Koopprys.

En soos hulle sê : The rest is history!

Maar soms wurg Wurgie hom letterlik tot stilstand in die dik sand van die Gemsbokrivier se droë lope – en dan moet mens maar voetslaan terug naar den Huis

image

En so n lopery maak mens honger en dors – en wat is n beter rede om die twee Skaapkoppe wat André spesiaal ingekoop het in die stoof te druk.

Gelukkig het die twee Outjies vroegtydig al begin son skep om vroegtydig te ontdooiimage

en met n bietjie sout en peper ingevryf tesame met n smeertjie olyfolie en suurlemoensap is hierdie twee Nommertjies slaggereed (sic ) om vir die volgende drie uur gesellig saam te kuier in die Defy Ruby Houtkoolstoof.

Drie ure is egter lank en soos Oupa Andries altyd gesê het : n Oorbrugginkie sal nou darem nie sleg wees nie – en gelukkig is ons net betyds om vir Hannie Hen te verjaag voor sy ons berowe van die Roosterkoek wat toe net gereed is op die buite braai

image

en ons luister na Chris van den Berg se Road to Freedom ( trakteer jouself en luister gerus weer n slag na die intro nommer When winter comes )image

asook Shawn Phillips en Magna Carta.

 

So flits drie ure verby – en die Smiley’s is reg! Die Manne vat elkeen n knipmes, hervul sy glasie Rooiwyn en trek n Jammerlappie nader – en Kêrels! Toe smul ons behoorlik – selfs die Vrouens het op n stadium hul Varklies opsy geskuif en kom peusel aan n stukkie skaapwang en tong.

image

 

Maar aan  alle goeie dinge kom egter ( ongelukkig ) ook n einde – en die volgende môre is ons vir oulaas trakteer op n Pizza a la KleinKapél

image

terwyl Nina afskeid neem van Bella met die hoop dat ons dit spoedig weer sal kan doen.

image

 

Met die terugrit besef ons : “Yster” naweek sal vir ons nooit weer dieselfde wees nie.

 

 

Ons kuier by die KapélMeester #1

image

Die Karoo is groot – Baie groot. Ietwat groter as Duitsland – en in ons ou Landjie strek dit oor vier Provinsies ( of is dit deserdae Streke genaamd?).

En om dit meer verstaanbaar te maak vir Jan en Alleman het die mense ( dalk dié op die Bus – of andersins die Hooggeleerdes ) hierdie moerse stuk grond opgedeel in areas/streke – noem dit wat wat jy wil.

Eerstens is daar die Groot Karoo – Dis nou die deel Noord van die Swartberge – en dan ten Suide daarvan die Klein Karoo.

En dan gaan ons verder en deel dit op in in meer spesifieke areas :  Soos bv Die Koup, of die Moordenaars Karoo. En dan is daar rondom Beaufort Wes die Vlakte Karoo. Naby Calvinia ( genoem na daai bewaker van ons sedes en norme Johannes Calvyn ) die Hantam Karoo.

En dan is daar die Tankwa Karoo – daardie area tussen Ceres en Calvinia – na bewering die droogste deel van die Karoo.

En dis waarheen ons op pad was die afgelope Paasnaweek. Want Broer Bertus het n paar jaar gelede vir hom n lappie grond in die Tankwa gekoop – net so oor die 100km Noord van Ceres op die Ceres – Calvinia grondpad. Daai langste reguit grondpad in ons Land – wat berug is vir sy veeltal papwiele – ons noem dit sommer die Wit Pad weens die wit oppervlak en enerslykende stofstrepe wat die hordes 4×4 Voertuie opskop.

Ons verkies egter om links te kap in Ceres en via Prins Alfred se Hamlet ( ek sien die Woordeboek noem dit heel tereg n Klein Dorpie – maar ook n Gehuggie. Ek wonder wat Prins Alfred sou sê van sy nalatenskap in “sunny South Africa?).

Vandaar oor die Gydo Pas ( en wat n pragtige terugblik oor die Ceres Vallei!).

Insetsel : Hier wil ek n Foto gesit het van die terugblik op die gesegde Vallei – maar ek sukkel om dit reg te kry😫. Ek sit dit dus in n collagé aan die begin – maar hopelik “next time!” Kry ek dit reg.

En dan by nog n kleiner Gehuggie genaamd Op die Berg draai ons regs en ry ons oor die Katbakkiespas om die aansluiting te maak met die voormelde Witpad.

En soos ons die laaste hoogte oorgaan en afdaal na die vlakte sien ons die stofstrepe – en ons weet : dis die WitPad – en die ikoniese Tankwa Padstal is binne bereik!

Bertus en Carin wag ons in by die Padstal – en oor n Mout Bruisdrankie vertel Bertus dat met hul aankoms loop hul Jan Bitterbos Nawater raak. Hy het met sy Donkiekar daar opgeruk om net gou n paar “giffies” weg te slaan met die oog op die Langnaweek.

En hy groet Bertus as volg : Môre Meneer – Geseënde Yster.

( Dit is darem na alles die begin van die Paasnaweek – oftewel “Easter?!”).

Die son begin egter spoedig water trek – en ek raak kriewelrig want die eerste aand is my en Marinda se Kookbeurt – en Klein Kapél is nog bykans 30km en 5 plaashekke vêr.

En so Sleep ons laatmiddag in op Klein Kapél se werf – n stukkie Tankwa hemel tussen die plase NuweFontein en GrootKapél ( en g’n wonder dan hoekom Broer Bertus se epos naam gevolglik die KapélMeester is nie ).

En die wydte en die stilte is betowerend.

NS In die volgende Episode maak ons nader kennis met Vrystaat en Kleintjie-Meis en bak ons Skaapkop in die oond.

Geniet intussen die Foto’s wat ek soos n goeie Sosatie tussenin wou plaas – maar weens tegniese onvermoë moet julle dit nou maar teug en geniet soos n na Ete Likeurtjie.

Groete uit Rondebosch.

.

Nou waarom wil jy Blog Johannes?

Verwonder ek myself nou anderaand – sal ek nie ook daai Blog ding probeer nie.

Ek meen te sê : Hoekom nie?!

Maar dan weer : Waarom?

En ek kyk bietjie rond en ek sien mense Blog vir diverse redes – Om gesien of gehoor te word, om slym van die bors te kry, om interressandhede te deel, om geld te probeer maak ( dalk die primêre rede? ) …. of sommer net ( enkele Blogs wat ek in my “navorsing” raakgesien het bewys nogal my waarneming : sien bv gevaaalik.com en kombiekiehier.co.za asook watkykjy.co.za ).

En toe is ek aanvanklik bietjie konfoes ….. maar ek skink vir my nog n glasie Rooies en ek herkou die konsep mooi en ek probeer bepaal hoekom sou ek nou regtig só iets wil doen.

En daar kry ek daai Archimedes oomblik ( ou Thomas Edison sou verstaan! ) :

Ek hou daarvan om so nou en dan as iets my opval of inspireer …. of sommer net mooi is – dit te verwoord. En ek hou a la Stef Bos en Zietsie ook baie van my Taal. En as ek dan my emosie in Afrikaans kan uitdruk ….. Happiness!

So – Daar het ek nou sowaar ook n Blog en ek gaan soos ek begeestert raak periodiek my elektroniese pen opneem en my gedagtes verwoord.

En dit maak regtig nie vir my saak of Iemand my Blog gaan lees nie – dit gaan sommer net vir my lekker wees om dit waarvan ek hou te doen. En weer en weer te doen.

Maar indien enige van julle oorskiet tyd het – en julle bevind julle in my Blog : Hoop ek julle geniet dit saam met my.

Want dit is waaroor hierdie Blog gaan.

NS En die wonderlikste bonus hiervan besef ek skielik is : Ek is nie gebonde aan enige spêrtye nie.

Maar – soos ek altoos in goeie Afrikaans kwytraak : Watch the Press for details. Ek dink ek weet reeds waaroor ek volgende gaan gorrel.

 

Intussen is dit Groete uit Rondebosch.