Dorpies en Kondensmelk.

So sit ek vanoggend en lees weereens hoe vele van ons ou plattelandse Dorpies oor die algemeen aan die versmoor is en sommer net irrelevant raak.

Dat ikoniese winkeltjies toemaak en slaggate in die Hoofstraat die norm word kan in die meerderheid van gevalle nie betwis word nie – maar irrelevant?! Ek dink nie so nie. Elke Dorpie of Gehuggie – noem dit wat jy wil – het tóg n storie en n geskiedenis wat vir Iemand iets beteken.

Neem bv Bethulie as voorbeeld. Vir die van Julle wie nie onmiddelik die “ja” knoppie kon druk nie – dis n Dorpie in die Suid-Vrystaat naby die samevloei van die Oranje- en Caledonriviere – naby die bo-punt van die Gariepdam.

Aanvanklik was dit n Sendingstasie gevestig in 1829 deur ene Eerwaarde Clark van die London Missionary Society met die oorspronklike eienaardige en onvanpaste naam : Moordnaarspoort! ( hoekom vra jy? Dis n storie vir n ander dag ).

Kort daarna in 1835 neem die Franse Sendinggenootskap onder Vader Pelissier die inisiatief oor en besluit onmiddelik op n meer verbruikersvriendelike naam – nl Bethulia ( n naam wat egter steeds kontroversieël sou wees want dit is ontleen aan een van die sg Apokriewe geskrifte wat nie deel van die tradisionele Bybel vorm nie ) wat beteken : Jong en ongeskonde Meisie. Mooi nê?! ( Toegegee – Daar is alternatiewe interpretasies van die naam – bv ” van God gegee”. Maar dalk beteken als in die groter prentjie dieselfde?).

Naasliggend ontstaan daar met verloop van tyd n Dorpie – gevestig in 1863 onder die naam Heidelberg. Om egter latere verwarring met die Dorp met soortgelyke naam “aan die hang van die Suikerbosrand” te voorkom word die naam in 1872 verander om aan te sluit by die voormelde Sendingstasie – maar in die volksmond word dit spoedig Bethulie ( trouens net voor dit was daar ook kortstondig n verdere verwarring toe die dorp Caledon genoem is! Maar dit het gelukkig nie lank gehou nie ).

En Bethulie is nie sommer net só n Dorpie nie – net buite die Dorp is die indrukwekkende DH Steyn-Brug oor die Oranjerivier. Dis n pragtige sandsteenbrug wat mens onwillekeurig laat dink aan n Romeinse Akwaduk – en na bewering is dit tans nog die langste brug in SA ( en sommige beweer in die Suidelike Halfrond.).

Maar Bethulie het ook n hartseer voetspoor in die geskiedenis van die Suid-Vrystaat – want hier is gevestig tydens die Tweede Anglo Boere-oorlog ( 1899 tot 1902 ) die grootste van drie Konsentrasiekampe ter uitvoering van Lord Kitchener se sg “scorched earth policy” en waar hoofsaaklik Vrouens en Kinders ( en ou Mans ) vasgepen is onder betreklik haglike omstandighede. Verskeie siektes het dan ook spoedig uitgebreek soos bv n Maagkoorsepidemie – en tientalle het gevolglik nie die einde van die Oorlog oorleef nie.

Hierdie klein monument is opgerig waar die oorspronklike Konsentrasiekamp geleë was, maar meeste van die grafte moes hervestig word met die bou van die Gariepdam wat hierdie laerliggende gebied met verloop van tyd sou oorvloei.

Die herrinneringe is wel n ent van daar op hoër terrein hervestig – en daar vind ons weer ons geskiedkundige voetspore

My Oupa na wie ek hiet ( mooi ou Hollandse woord nê?!) was n jong Boerseun met die uitbreek van die gemelde Oorlog- en alhoewel hy wou, is hy as te jonk geag om op Kommando te gaan – en so eindig hy dan saam met sy Ma en van sy Susters in Bethulie se Konsentrasiekamp.

Soos klein Johannes te jonk was om te gaan veg vir Vryheid – so was daar ook n Oom wie weer te oud geag is om Volk en Vaderland by wyse van “Perd en Roer” te gaan verteenwoordig. Spoedig bou die twee dan ook n vriendskap op en voel die Oom per geleentheid hy wil iets vir die Seuntjie gee, maar daar is nou nie juis n Winkel in die Kamp nie en dit val buite ” Take a Lot ” se “online” radius ( of is ek nou n paar jaar te vroeg?!).

Maar n Boer maak n plan!

As deel van daaglikse rantsoen is gekondenseerde melk in sulke klein blikkies per trein afgelewer ( dis nou as die Boere nie die brûe opgeblaas het nie – voordat die bekende Blokhuise later opgerig is om die brûe te beskerm ). Vars melk was onbeskikbaar en met Kondensmelk kon die Prisoniers minstens hul koffie en tee geniet.

En so kry daai Oom dan inspirasie om vir Klein Johannes n Koffiebekertjie te maak uit n Kondensmelkblikkie

Daardie Bekertjie het tans n ereplekkie in my Klerekas – en alhoewel ek nog nie Kondensmelk uit hom geteug het ( dalk moet ek dit tóg probeer voor ek heeltemal mooi groot is ) gebruik ek al vir jare die ou Bekertjie om my daaglikse rantsoen van verpligte medikasie en vrywillige aanvullers in af te tel.

En soos ek dit doen besef ek skielik : Elke Dorpie hét sy eie storie en voetspore en herrinneringe – en al is daar slaggate in die Hoofstraat – en al het die Royal Tea Room lankal toegemaak – elke Dorpie bly relevant.

Of dit nou Bethulie of Botshabelo is.

Dis dan hierdie keer se Storie uit Rondebosch.

NS Dankie Philip vir jou hulp met n paar van die Foto’s.

Waar is my Mojo ….. ?

My Meisie in Shanghai roskam my nou die anderdag omdat ek laas in die Herfs van 2017 geBlog het.

Hoekom Johannes?!

Ek weet nie Meisie – ek dink ek het seker maar my Mojo verloor

IMG_3669

En dis darem nie iets uitsonderlik nie ….. ek meen te sê selfs ou Christoforus Columbus het per geleentheid die spreekwoordelike spoor byster geraak. Toegegee – hy het op die ou einde darem die Wes Indies ontdek – alhoewel hy oorspronklik oortuig was hy het deur wes te vaar uiteindelik die Spesery eilande van Maleisië en Indonesië ontdek.

Maar my Shanghai Meisie is NIE tevrede met my verskoning nie : Kom aan Johannes! Doen dit net weer ….. en nog n keer ….. en nogeens.

En ek is lief vir daai Meisie – en ek wil haar graag gelukkig maak

IMG_5015

En skielik besef ek : Sy is reg.

Ek hét hierdie Ding oorspronklik begin omdat dit vir my lekker is om sommige gedagtes wat my raak en waarnemings wat my opval te verwoord. En daardie behoefte bestaan steeds. Niks het eintlik verander nie.

Maar soms raak Mens maar die emosionele pad byster en voel jy soos Iemand eenmaal gesug het

IMG_1148

Maar dan …… as jy gelukkig is ( soos ek is ) ….. het jy Iemand wie jou weer kan inspireer en vir jou kan herfokus.

En ek dink – en ek dink laaaank

IMG_1415

…… en ek besef weereens : Jy is mos sommer simpel Johannes! Die Lewe is kort – gebruik en benut jou geleenthede en DOEN wat vir jou lekker is.

En ek kyk deur die Groot Bril

IMG_2097

….. en ek sien Iemand waai vir my daar van die rotse af

IMG_4871

…… en die besef dring tot my deur my Mojo is nie nét in China te vinde – maar ook sommer net hier neffens my.

En skielik voel ek of ek nuwe energie het …. en sien ek vele gedagtes en idees wat ek nog wil neerpen.

En ek kyk vêr en wyd

IMG_4916

En ek sê dankie vir my Shanghai en Rondebosch Meisies.

Ek gaan danksy julle beslis NIE weer n Seisoen laat omgaan alvorens ek weer hierdie Ding doen nie.

Maar vir nou is dit my Storie vir hierdie keer.

Tempus fugit – Selfs as jy Blog net wanneer jy die bevlieging kry.

Die Ou Romeine word krediteer met bogemelde gesegde : Tyd vlieg.

Presies n jaar gelede sit ek vroegaand en ginnegaap – en waar ek sit kan ek nogal daai Platberg se sykant beskou – en ek sien die NoordWes begin van regs na links soos ek sit die wolkkombers stadigaan oor ou Tafelberg trek. Is daar dalk n paar druppels op pad vra ek myself af – en terstond wend ek my tot die wonder van die Internet en die WeerStasie genaamd : Yr.No ( n weerstasie baseer bykans 12000 km van hier in Noorweë : Yr staan vir wind en No naturlik vir Noorweë ).

Daar – in Oslo – sit n vaal Outjie met n wit kuif, n T-hemp en Jannas en hy voorspel dat dat teen 21h00 vanaand gaan dit reën in Nuweland/Rondebosch.

Dis 20h00 toe ek voormelde lees – en Ha Ha – hy was verkeerd!!! Die reën het eers om 21h05 begin neerstuif.

Bogemelde net ter illustrasie – Vir dié van julle wie nog nie met daai vaal Noorweër ontmoed het nie.

Om die minste te sê was ek verras en beïndruk – en dit laat my toe dink of ek nie soortgelyke ervarings dalk wil neerpen en deel met wie ookal dit interessant sal vind.

Dis dan hoe Johannes begin Blog het ( en my “raison d’etre” is steeds soos in Blog 1 : Ek doen dit omdat ek hou van waarneem, deel en skryf – en alhoewel ek geen begeerte het om vir die “Groot Paviljoen” te speel – indien my maaksel in die proses enigiemand anders vermaak verskaf : “Happiness!” ).

Die resultaat was egter dat soos op vanaand ( 12 maande verder ) is hierdie inderdaad Blog#12. Tyd vlieg inderdaad!

En soos n jaar gelede verwonder ek my weer – maar hierdie keer is die vraag : Wil ek regtig voortgaan hiermee?

Ek is nie seker nie – maar wat ek wel kan sê is dat ek die afgelope 12 maande se Bloggerasie inderdaad baie geniet het. Aanvanklik seker die uitdaging om iets nuuts onder die knie te kry – maar later het ek besef dis eintlik die waarneem, konseptualisering en weergee daarvan wat ek stimulerend gevind het.

Dalk is dit tyd om nou weer iets anders te probeer – want Tyd vlieg en myne raak vinnig minder.

Maar dan dink ek aan Vrind Harold se respons was op Blog #1 : Doen dit! Skryf oor enigiets wat jou interesseer – Wat jy sien as jy rondbeweeg en oor kos en oor musiek. Enigiets … en deel dit met ons.

En aan die hand van voormelde inspirasie het ek besluit om minstens Blog#12 die lig te laat sien en wel in die formaat van n vinnige sg “Trip down Memory Lane” en gaanek dus kortliks uitlig wat eerste by my opkom met die terugblaai deur die afgelope #11 Blogs :

1 Blog #1 : Ek sien weer daai Kêrel met die grys T-hemp en ABBA sing in die agtergrong : Thank you for the Music!

2 Blog#2en3 : Ons kuier by die KapélMeester in die Tankwa en die wydheid en stilte en Chris de Burgh se “When winter comes” sal my altyd by bly.

3 Blog#4en5: Daar is n gesegde dat jy nie Familie kan kies nie ( behalwe in n ander kultuur waar huwelike gereël word. Skrikwekkend!).

Trouens – In die kultuur waarin ons funksioneer kan jy ook nie Skoonfamilie kies nie ( potensieel ewe skrikwekkend!).

Maar soms is jy gelukkig – en so kuier ons in Swellendam by ons eerste Skonies en die betrokke Blogs spreek vir sigself. Ons kom baie goed oor die weg – maar hoé goed het ek eers veel meer onlangs besef toe ons nader aan Huis weer n slag saam kuier en ná ete heel spontaan begin musiek speel – en Swaer Kobus op n stadium vir my vra : Kan jy dalk n Song van Mireille Matthieu vir ons opspoor?

En daar besef ek van vooraf – “We are cut from the same cloth”.

4 Blog #6en7: Betties is danksy die insig en voortvarendheid van Ou Mê ( met Oupa Andries se deurlopende ondersteuning ) nou al bykans 35 jaar in ons Familie.

En ons sit op die Stoep en ons stap op die Langstrand en ons maak kos – oor jare het weinig verander – en wat is dan lekkerder as n Skaapboudjie in Ou Mê se DutchOven? ( dis nou as die SuidOos of NoordWes buite sit minder plesierig maak).

Soms gaan lê die wind egter – en dan kan mens n resitasie skryf oor die weer! Gevolglik wil mens die volgende môre vir Brunch/Lunch dalk bietjie iets anders doen – en hoekom nie weer daai Boere Pizzas wat die KapélMeester ons op trakteer het? ( sien Blog#3 )

5 Blog#11 ( ek kom terug na 8,9 en 10 ) : Die eksperiment om die Groot Honde van die LangPad bietjie onder die vergrootglas te plaas was opsigself interessant – maar wat op die ou einde my keer op keer laat luskry om weer n slag die Langpad aan te durf is om saam met my Reisgenoot te luister na die lekker musiek wat sy vir ons speel ….. en as ek hieraan dink dan kom die refryn op van daardie besonder aangrypende “Song” ( verskoon asb – Lied of liedjie doen afbreek ) van Richard van der Westhuizen : Tussen Treine

6 Blog#8,9en10 : Terug by die Huis ry ons gereeld verby die bekende Rondebosch Meent ( of soos dit algemeen bekend staan hier in die Suidelike Voorstede van Kaapstad : The Common ).

Maar dis tans ongelukkig maar vaal en bruin weens die voortslepende droogte in die WesKaap

Nogtans is daar deurlopend Drawwers op geteerde sirkelroete buite-om en Andere wie weer met hul honde kruis en dwars die Meent se verskeidenheid ongeteerde voetpaadjies beproef.

Een van die Randfigure van die Meent is Norman.

Hy beman die robot op die SuidOoste hoek van die Meent. Norman bied aan om jou te verlos van enige rommel in jou voertuig – maar anders as baie van sy Kollegas, is hy heel gemaklik indien jy aandui jy kan geen bydrae lewer nie. Hy glimlag – groet jou en stap na die volgende voertuig in die ry.

Die patroon het dan ook ontwikkel dat wanneer ons besef ons ry in daardie rigting maak my Reisgenoot gou n lekker Toebie ot twee – en afhangende van die weer n bottel lekker koffie of koeldrank. En Norman is dankbaar.

Maar nou anderdag vang die tyd ons en toe ons weer besef nader ons Norman se robot – en ons hande is leeg – en die robot is rooi.

Die volgende gesprek vind toe plaas :

Ek : Hallo Norman – Jammer man. Ons het ongelukkig niks hierdie keer nie.

Norman : Hallo Julle! Geen probleem – Dis lekker om julle te sien.

Ek : Ons kom waarskynlik môre weer hier verby – sal dan vir jou onthou.

Norman : Baie dankie – maar moet glad nie stres nie. Sê egter vir my : Hoe gaan dit met julle Twee?

Norman slaap in die aande onder die Dennebome aan die Westekant van die Rondebosch Meent.

Miskien het Norman my inspireer om uit blote dankbaarheid ( net omdat ek kan ) dalk maar nog n slag of wat iets neer te “pen”.

Ek dink nog daaroor –

Maar vir die huidige is dit dan hierdie keer se Storie uit Rondebosch.

Fonteine, Oseane ….. en dies meer.

Sedert Blog #9 ( Platberg of Sponsberg ) het Vlak 6B ingeskop met as resultaat n matige paniek onder Kapenaars.

Die Supermarkte se rakke is leeg van gebottelde water – en Dag Zero klink skielik nie meer net soos n Mad Max rolprent!

Sederdien sing ons dan ook maar ( met apologie aan die ou Volksliedjie ) :

“Mense moenie met die water mors nie – die Kapenaars moet dit drink”

Maar ten spyte van die droogste siklus in 100 jaar ( of altans só sê die Mense op die Bus ) lewer die Fonteine aan die voet van die Sponsberg onverpoos hul bydrae om die Kapenaars se dors te les – dis nou diesulkes wie NIE handdoek ingegooi het en ingekoop het op die riglyn : Spaar water – drink wyn!

By Springsweg ( net af van Kildare in Nuweland – vergelyk weer met die Foto in #9 ) lyk dit tans soos Nagmaal op Noenieput :

Dis egter een ding om die Kanne vol te maak – máár nou moet jy dit by die Huis kry – en teen n kilogram per liter raak so n 20 of 25 liter kan ongerieflik swaar!

Dan moet jou planne egter net nie opraak nie nê :

So 500 meter nader aan die Liesbeek is die welbekende Fontein op die perseel van die SAB ( vergelyk weer met #9 ) – en hier het die sg Waterputters ( soos die ou Hollanders hulle genoem het ) ook eksponensieël dramaties toegeneem

Maar wat my hier nogal beïndruk het is hoe die SAB met empatie na die situasie gekyk het en siedaar – n paar sleepwaentjies met Operateurs is beskikbaar gestel om ( soos die een “Drywer” dit gestel het ) : “Die ou Mense te help om hul kanne by hul voertuie te kry”.

Ek en my Kamermaat was egter op die gegewe oomblik nie lus om in die lang ry te gaan staan nie – en aangesien ons n bietjie tyd op hande het en petrol in die tenk, vat ons toe liewer die pad Betties toe. Hier loop die Palmiet nog sterk en Kleinmond en die omringende kusdorpies het vir die huidige dus geen waterprobleme – soveel so dat die Overstrand Munisipaliteit vir n proeftydperk van n paar maande selfs water gaan loslaat ter aanvulling van die Steenbrasdam!

So sit ek dan op op Betties se stoep en ek kyk na die Groot Oseaan voor my – en onwillekeurig duik die woorde van Samuel Taylor Coleridge op :

“Water, water everywhere …… nor any drop to drink”

( uit : The Rhyme of the Ancient Mariner ).

En ek dink – en ek wonder – en n Seemeeu maak n draai

…. en my gedagtes dwaal na die woorde van Jan FE Cilliers :

Dis die blond

Dis die blou

Dis die veld

Dis die lug …..

en n voël draai bowe in eensame vlug –

dis al.

Dis n Balling gekom oor die Oseaan

dis n graf in die gras

dis n vallende traan –

Dis al.

En terwyl ek my verwonder aan voormelde kom sit n Seemeeu op die rotse hier voor my

…….. en my gedagtes dwaal nog verder en ek dink aan daardie ikoniese gedig van Richard Bach wat so pragtig getoonset is deur Neil Diamond – en ek sit daai musiek op en verluister my weereens aan Anthem uit Jonothan Livingston Seagull

En skielik voel ek rustig in my gemoed – en ek glo die reën sal op sy tyd kom – en dalk sal die Theewaterskloof nog in my tyd ook weer oorloop.

En vir nou – is dit Al.

Groot Honde van die Langpad.

Ek en my Kamermaat hou van Langarm dans en Langpad ry.

Ongelukkig kry ons deesdae bitter min kans vir eersgenoemde – maar gelukkig doen ons nog steeds die Langpad ding. Min of meer so tweemaal per jaar vat ons die Langpad “Noorde” toe – aanvanklik maar vanaf Kaapstad met die N1 – maar die laaste jaar of drie gee ons voorkeur aan die ietwat langer roete deur die Klein Karoo via Graaff Reinet alvorens ons dan eers by Colesberg by die N1 aansluit vir die laaste trek tot in Jozie en SnorCity.

Dis n lang pad per motor en daar is baie tyd om met jou Reisgenoot te gesels, musiek te luister – of sommer net stil te wees en n slag introspeksie te doen. En in sulke stil tye kyk jy dalk met meer andag na die veranderende plantegroei en geografie en wonder jy bv wanneer het dit dan só lekker gereën in die Suid Vrystaat dat die Rooigras só mooi wuif in die Westewindjie?

Maar daar is ook ander waarnemings – Soos bv die geweldige toename die laaste dekade of drie van die groot Langpad vragmotors op ons Nasionale paaie ( en veral op die N 1 ) – die sg Groot Honde van die Langpad.

Soos ons dan die Langpaaie aangedurf het die laaste klompie jare het dit my almeer begin interresseer welke Fabrikate maak ons mee kennis op ons paaie – en later : watter Fabrikate maak die grootste segment uit van hierdie mark en hoe kompeteer die Internasionale Groot Hond vervaardigers om hierdie “been”?

En so – met ons terugrit end laasjaar besluit ek om vas te trap en met die hulp van my Navigator neffens my begin ons tel en rekord hou. Vanaf Johannesburg tot Colesberg is ongeveer 650km via die N1, en vandaar met die N9 tot Graaff Reinet ( waar ons gewoonlik oornag ) is n verdere 200km – n totaal dus van 850km.

Op voormelde roete tel ons dan in totaal 293 Eenhede wat 11 Fabrikate verteenwoordig en wel 8 oorspronklike Nasionaliteite ( sommige soos bv Renault is van oorsprong Frans maar mettertyd oorgeneem deur Volvo ) – en hier is n opsomming van ons bevindings :

1 Volvo is los voor as indiwiduele Handelsmerk met 81 Eenhede oftewel 27% van die mark

2 Mercedes Benz is met n kortkop Tweede : 65 Honde wat beteken 22% van die mark

3 Derde is weer n Sweed nl Scania met 61 Eenhede wat dus beteken 20% van die SA mark.

4 Hierna volg Freightliner ( oorspronklik n Amerikaner maar deesdae lid van die Mercedes stal ) met 26 Eenhede

5 In die Vyfde plek is MAN ( van oorsprong n Pruis en ook deesdae in die Mercedes stal ) met 22.

6 International van Amerika is Sesde met 12

7 Nissan UD ( oorspronklik n Japanees maar deesdae ook in die Volvo stal ) is Sewende met 11

8 Dan volg Iveco van Italië met 6

9 DAF van Nederland met 3

10 Nr 10 is Renault met 2

en

11 In plek Nr 11 is n ou bekende op ons paaie maar nuweling in die Groot Hond mark nl Volkswagen ook met 2.

Wat ons baie interressant gevind het is dat ons géén Oosterlinge ( Chinees, Suid Koreaans en Indies ) opgemerk het nie – wel heelwat in die middelklas vragmotorsegment soos Isuzu, Hino en Tata ( al drie wie ook groot is in die Motor, Vragmotor en Swaar konstruksiebedrywe ) maar duidelik nog nie hier by ons nie. Soos reeds gemeld het hierdie “studie” egter konsentreer op die Groot Honde van die Langpad.

En wat Nasionaliteite betref was Swede loshande voor met 47% van die mark ( bestaande uit Volvo, Renault en Nissan en sterk aangevul deur Scania )

Duitsland is Tweede met 30% bestaande uit die Mercedes konglomeraat ( wat MAN en Freightliner insluit ) plus die nuweling VOlkswagen

Amerika met International kom Derde in met n skamele 4% ( beslis nie America First soos Oom Donald dit wou sien!).

En my konklusie ?

Ons mag wel n Derde Wêreldse land wees – maar minstens wat die Langafstand vragvervoer betref is hierdie segment van ons mark na al die jare steeds Wes Europees gedrewe.

Die tyd sal leer tot hoe n mate dit in die toekoms sal verander – of dalk nie?

Maar vir die huidige is dít my storie vir hierdie keer.

Platberg of Sponsberg?

Ry mens op die agterpad van Grabouw na Franschoek – en jy luister dalk té aandagtig na een of ander meevoerende Musiekie – kan jy jou spoedig verbeel jy het verdwaal.

Want om die volgende draai lyk dit bepaald of jy Sossusvlei benader!

Ja – Dis droog in die WesKaap. En ons grootste Dam nl die Theewaterskloof daar kort duskant Villiersdorp net voordat jy die Franschoekpas van sy agterkant vat, is maar baie soos die Vaaldam in Gauteng : plat en vlak – en in ons geval BAIE leeg!

Genadiglik is daar darem nog n paar ander kleiner damme wat water verskaf aan die dorstige Kapenaars – en gesamentlik kan ons hopelik die volgende reënseisoen haal ( veral ook as La Ninã – soos die slim Ouens voorspel – n positiewe inset sal lewer ).

Maar dan sal ons sekerlik vir nog n hele paar maande heelwat minder water en beslis meer bier moet drink – en waar moontlik ( veral na n bier of drie ) moet die Manne maar soos hul Franse eweknieë wanneer êrens op pad buite die Stad meer gereeld n Pipi Rustique doen.

Dit bring my by my eintlike storie :

Ons bly neffens die Platberg ( Hoerikwaggo het Harry en sy mede Strandlopers dit genoem : Die Berg in die See ) – maar my Kamermaat maak nou die anderdag die opmerking dat die Berg vir haar soos n spons is. Dit versamel water oor n lang tyd – en deel dit dan met wie ookal hom/haar/hulle aan haar voete bevind.

En hoekom sê sy dit?

Stapafstand van ons Berg se kant toe is daar n systraatjie wat heel gepas Springsway genoem is

e

…….. en hier borrel die fonteinwater spontaan en onverpoos uit die grond en voed n sytak van die bekende Liesbeeck.

Hier was tot onlangs net een “formele”waterpunt, maar met ons huidige krisis het n Barmhartige Samaritaan sy/haar beursie oopgemaak en op eie koste die Fontein ietwat beter toegerus.

En nou spuit die vars fonteinwater onverpoos uit meerdere punte – en die mense staan tou om hul kanne te vul ( sommige vertel my hulle doen dit al jare – want die water is glo baie gesond en vol natuurlike minerale )

Bietjie stroomaf van die Springsway Fontein het n paar Entrepeneurs etlike jare gelede raakgesien dat onder andere vars water goed kan saamwerk met mout en hops om bier te brou vir die dorstige Matrose in die Kaapse hawe.

En – “Fast forward” n paar honderd jaar en SAB pronk trots langs Nuweland Rugbystadion aan weerskante van dieselfde Liesbeeck! ( beide Instellings soos ek dit verstaan kort voor lank dalk net n geskiedkundige aantekening – maar dis n storie vir n ander dag ).

Tóg was die Groot Base van die SAB nie onsensitief teenoor diesulkes wie nie juis n affiniteit het vir n Bruis Moutdrankie ( lees : Bier ) – en siedaar! Op hul perseel het hulle nóg n Fontein wat uit die Platberg/Sponsberg dreineer toeganklik gemaak vir Jan en Alleman – en nogal gratis! ( Sien die aanwysing onderaan die Kennisgewingbord )

En só – vanuit die Sponsberg dreineer al hierdie Fonteine ( en nog n paar ander nie eers hier gelys ) via verskeie kleiner sytakke ( bv die Alfred-, Newlands- en Palmboomstrome ) tot in die Liesbeeck.

Die standhoudenheid van die strome het selfs tot gevolg gehad dat n Belegger wie iets anders wou doen ( sekerlik in navolging van die sukses van die Bier Baronne ) n Koeldrankfabriek op die walle van die symste Liesbeeck opge”start” het

En ten spyte van al die voormelde onttrekkings uit die Fonteine en die Liesbeeck, het dit die Agbare Stadsraad reeds jare gelede oortuig om selfs n Pompstasie net stroom af van Nuweland op die walle van die Liesbeeck op te rig

En nou vra jy my – word die Liesbeeck nie leeg gesuig nie, en is daar nog enigsins water wat die see bereik? Veral as dit só droog is?

Wél – Juis vanweë die Sponsberg se konstante fonteine loop die Liesbeeck genadiglik nog steeds. Soms bietjie leër

Soos in Mei 2017 – maar dan val daar weer n paar welkome druppels en kyk nou net! ( 15 Aug 2017 )

Selfs ruim buite ons reënseisoen kruie die Liesbeeck nog rustig seewaarts ( 6 Des 2017 )

Maar dis ook nie net in die Nuweland area waar die Sponsberg so mededeelsaam is nie.

Ry jy links om na Simonstad sal jy in Hoofstraat Kalkbaai die volgende sien

Voormelde is maar net n paar voorbeelde van Fonteine in ons onmiddellike omgewing – maar te danke aan die Sponsberg is daar wel nog meerdere ( ek dink bv aan n historiese een wat tans nog bestaan in Oranjezicht in die Stadskom ).

Ja – Ons benodig steeds BAIE reën – maar nie net om ons damme te vul nie maar ook om die Sponsberg te voed sodat haar Fonteine nog lank sal kan borrel en vloei.

En dis vir nou my storie.

Groetnis uit Rondebosch!

Deur die Rûens na Posberg – met n draai in Tokai.

Ek verbeel my dis die Bybelse Spreuke Digter wie vanmeleë kwyt geraak het dat dit sy verstand te bowe gaan hoe n Voël in vlug kan bly – en ek stem heelhartig saam ( lees egter in hedendaagse konteks : Airbus of Boeing Dreamliner!).


Maar so is daar ook n hele paar ander verskynsels in die alledaagse lewe wat my net so baie verstom – neem bv die soepelheid van die Natuur.

Soos almal weet is dit nou al geruime tyd besonder droog in die WesKaap – en nié net omdat die Bevolkingsgetalle die afgelope dekade of drie dramaties toegeneem het nie. Dít ook – maar veral het dit die afgelope twee jaar vêr onder gemiddeld gereën (sommige kenners beweer dis die droogste siklus in 100 jaar – of iets in dier voege).

Ry ons dan so middel Augustus by n Parkie hier naby ons verby en wat sien jy duidelik?! Die bome is nog vaal en sonder blare – maar die Sneeuklokkies en Watsonias begin al heel vrolik aankondig dat Lente om die draai is :


En om dit te toets vat  ons dan ook so n week of twee later die pad en ry n wye draai en wel deur die bekende Rûens gebied daar in die omgewing van Caledon en Greyton. 

Ten spyte van vêr ondergemiddelde reënval was die Boere van daai geweste dapper genoeg om die Planter agter die Trekker te haak – en siedaar! Canola wáár jy kyk! Dit lyk kompleet of Ou Vincent ( dis nou ons Vrind met die een oor ) oordadig met sy geel verfkwas daar doenig was


Maar om terug te kom by ons Huisie daar neffens die Platberg in Rondebosch ry ons n ompad deur Tokai – en dit wys jou net! Hou net jou oë oop en kyk rondom jou. Ou Moeder Natuur is oral ewe doenig. Wat ons daar raakloop ( of seker raakry?) is beslis nie n Canolaland – maar ek verbeel my maklik net so mooi

Ons is nou só geïnspireerd dat ek en my Navigator ( wie heel toevallig ook my Kamermaat is ) terstond besluit om om voor end September wanneer die hekke sluit n draai te gaan maak in die Posberg Reservaat aan die Suidepunt van die Langebaan Strandmeer om ook daar te gaan kyk of die Natuur die Lente aankondig ten spyt van droogte toestande – en Voila!

Weereens is ek verstom hoe ten spyte van min reën die Bome steeds bot en die blomme steeds blom.

En so het die tweede maand van ons Lente dan stilweg in plek geskuif – Oktober.

Dit laat my dan weer n slag Leipoldt se bekende gedig afstof en herlees  – en ek kannie anders as om dankie te sê vir die reëlmaat en ritme van die Natuur.

En ek sê dankie dat ek deel van Lente 2017 kan wees.
Dit is dan hierdie keer se Storie uit Rondebosch. 

NS Hou duim vas – die bewerings is dat ons eerskomende Dinsdag dalk weer n bietjie reën kan verwag. En Boeta – ten spyte van al voormelde mooi foto’s – ons hét daai reën broodnodig!

Biskoppe, Poenskoppe en Tobies

Wêreldwyd op land is Mielies, Koring en Rys stapelvoedsel ( en volgens die Suid-Amerikaners selfs ook Quinoa ).

Kuslangs hier by ons lyk dit my vervul Mossels oor n wye spektrum dieselfde rol.

image

Volgens die Kenners kom daar 5 soorte Mossels aan die SA kus voor, maar die Bruin Mossel ken ek glad nie en die Wit Mossel en Perdemossel is “sandkruipers” ( maw hulle lewe in die sandbanke tussen die hoog- en laagwatermerke waar hulle hoofsaaklik deur Hengelaars uitgehaal word om as aas te gebruik ).

Maar Boeta! Kom jy op die rotse dan sien jy hoe geil sit die Swart- en Europese- of Bloumossels ingepak

image

En bykans almal smul aan hierdie “oes van die see” bv die Wit Mosselkraker ( in die volksmond bekend as die Witbiskop ) en sy nefie die Swart Mosselkraker ( ook bekend as die Poenskop )

image

Maar kort op voormelde se hakke smul die Weskus Krewe ook heerlik aan n Mosseltjie of twee – en so ook daai “Outjie” met die groot oog, papegaaibek en sy 6 arms nl Oom Seekat.

Om nie te vergeet van die pragtige Swart Tobie wat ten spyte van sy Engelse naam nl Black Oystercatcher ook n besondere voorliefde het vir n sappige mosseltjie

 

image

En nadat al voormelde “aangesit” het vir n Feesmaal – lyk dit so

image

Maar nog is dit het einde niet! Homo Sapiens het spoedig ook deel geword van hierdie voedselketting van Seekos Connoisseurs

image

( Red : Dit kan wel bevestig word dat hierdie MosselPlukker heel getrou jaarliks haar permit by die plaaslike Poskantoor gaan hernu. Teen net onder R100 per jaar reken sy dit bly n winskopie ).

Om egter die Mossels te “pluk” is een ding – maar om hulle reg te kry vir die pot is n annerlike ding! Daai baarde moet gepluk word – en glo my vry dis harde werk

image

Maar met doelgerigdheid en deursettingsvermoë kom mens wel daar, en nou is die mossels reg om in die spreekwoordelike Pot gedompel te word

image

 

Griki het al vir ons n heerlike tradisionele Mosselpot op die stoof gemaak – die sg Moules marniére waar jy die Mossels “flash fry” in n bietjie botter, seldery, uie en witwyn.

Ons loop egter nou die anderdag n deurwinterde  Visserman raak daar op die rotse, en gee hy ons toe die wenk om die vars skoongemaakte Mossels sommer in die mikrogolf te druk vir 2.5 minute – en siedaar! Dis n Wenner!

Op dié manier is die Mossels gaar, maar daardie onmiskenbare smaak van die See is steeds daar

image

Na hierdie smaaklike Mosselslaai – afgespoel met n koel droë Chenin – debatteer ons wanneer doen ons dit weer?

En die MosselPlukker neffens my sê : Wat’s fout met môre?! Die Getye is reg – met laagwater kom jy makliker by die grotes uit – en ons is besig om in die Wintermaande in te beweeg.

Want sien – die MosselPlukker se ervaring oor n paar jaar het haar tot die slotsom laat kom dat in die Somermaande is die vleis van die Mossels veel kleiner. Maar kom die laat Herfs en Wintermaande – dan is hulle beslis groter en so lekker plomp soos in ons Slaai.

Toegegee – beslis nie so groot soos daai wat jy soms in n “Seafood Platter”  by n Reataurant kry nie – maar dan proe hulle minstens nog soos See en hoef jy hulle nie toe te gooi onder een of ander roomsous ten einde die kartonsmaak te verdoesel nie.

Gee my enige tyd n “wilde” Mossel pas van die rotse gepluk en net skrikgemaak in die Mikrogolf – Soos my sussie Marieta sou sê : HjuRRlik!

 

En dit is dan hierdie keer se storie.

 

 

 

 

Kanonne,Trekkers en BellaDonna #2

Die Trekker se remme het toe wel gehou, die blou Hoed het nie afgewaai nie en so vat ons toe die langer pad terug Swellendam toe nl via Barrydale waar ons stop vir n Koffie of iets dergeliks

image

Gelukkig is Kobus se voertuig se tenk vol genoeg want ek wonder hoe vêr ons op Paraffien sou kom?!

En genadiglik is daar geen nodigheid vir meganiese verstelling – want die eindresultaat blyk onseker te wees

image

Onsself was egter bereid om die Diesel en Crème Bistro uit te probeer – waar Marinda egter die oordadige gasvryheid van die Platteland oorskat het

image

… en moes ek hand ( of eintlik mond ) bysit om haar te help met hierdie konkoksie.

Gelukkig was die strooitjie ekstra dik – en die eindresultaat was heel smaaklik.

Tussen Barrydale en Swellendam is seker ( altans vir my ) een van die mooiste Bergpasse in ons Land nl die Tradouwpas deur die Langeberge.

Wat ek egter nie geweet het nie, is dat bykans halfpad deur die Pas syfer helder onbesoedelde bergwater tussen die varings deur die veenmos – en hier het Iemand per geleentheid n paar lengtes PVC geutpyp in die berghang gedruk en siedaar : Water om ons dors te les!

image

Op links het Iemand n modifikasie gedoen van die oorspronklike model – n stukkie plastiese pyp is eweneens in die berghang ingedruk en Marinda se botteltjie was binne oomblikke vol met heerlike koel soet bergwater.

Ongelukkig ( soos Einstein eenmaal versug het ) is tyd relatief – en ons moes weer n slag ons belange gaan beskerm daar waar ons bly by die Platberg wat met sy een voet in Tafelbaai staan.

Ons ry egter anderkant om en verkyk ons op pad na Robertson aan die rye rooi Kannas wat langs die pad die wingerde omsoom

image

Ankers! Gooi anker Johannes!!!

Kort anderkant Robertson word ons afgetrek – maar gelukkig nie deur n Verkeersman nie

image

maar wel die VerwelkomingsKomitee van die Affie Plaas Padstal

image

en hier koop ons pragtige vars Waterblommetjies

image

en belê ek in n paar interressante wyne wat ek uitsnuffel in die rakke van die baie besondere klein WynBoetiek – o.a.

image

Die BellaDonna is versny uit vier rooiwyn kultivars en vernoem na die Maartlelie ( Amaryllis Belladonna ) wat ( ja – reg geraai! ) in Maart n algemene gesig in die WesKaap is – selfs op die middelman van die M3 tussen UK en Kirstenbosch.

Terug aan Huis herkou ons al die interressante dinge wat ons gesien en goed wat ons ervaar het – maar wat op die ou einde wat uitstaan is

image

die waarde van kwaliteit Vriendskap.

Dankie Kobus en Brenda : Ons kom beslis weer kuier!

En dit is vir nou my storie.