So sit ek vanoggend en lees weereens hoe vele van ons ou plattelandse Dorpies oor die algemeen aan die versmoor is en sommer net irrelevant raak.

Dat ikoniese winkeltjies toemaak en slaggate in die Hoofstraat die norm word kan in die meerderheid van gevalle nie betwis word nie – maar irrelevant?! Ek dink nie so nie. Elke Dorpie of Gehuggie – noem dit wat jy wil – het tóg n storie en n geskiedenis wat vir Iemand iets beteken.

Neem bv Bethulie as voorbeeld. Vir die van Julle wie nie onmiddelik die “ja” knoppie kon druk nie – dis n Dorpie in die Suid-Vrystaat naby die samevloei van die Oranje- en Caledonriviere – naby die bo-punt van die Gariepdam.

Aanvanklik was dit n Sendingstasie gevestig in 1829 deur ene Eerwaarde Clark van die London Missionary Society met die oorspronklike eienaardige en onvanpaste naam : Moordnaarspoort! ( hoekom vra jy? Dis n storie vir n ander dag ).

Kort daarna in 1835 neem die Franse Sendinggenootskap onder Vader Pelissier die inisiatief oor en besluit onmiddelik op n meer verbruikersvriendelike naam – nl Bethulia ( n naam wat egter steeds kontroversieël sou wees want dit is ontleen aan een van die sg Apokriewe geskrifte wat nie deel van die tradisionele Bybel vorm nie ) wat beteken : Jong en ongeskonde Meisie. Mooi nê?! ( Toegegee – Daar is alternatiewe interpretasies van die naam – bv ” van God gegee”. Maar dalk beteken als in die groter prentjie dieselfde?).

Naasliggend ontstaan daar met verloop van tyd n Dorpie – gevestig in 1863 onder die naam Heidelberg. Om egter latere verwarring met die Dorp met soortgelyke naam “aan die hang van die Suikerbosrand” te voorkom word die naam in 1872 verander om aan te sluit by die voormelde Sendingstasie – maar in die volksmond word dit spoedig Bethulie ( trouens net voor dit was daar ook kortstondig n verdere verwarring toe die dorp Caledon genoem is! Maar dit het gelukkig nie lank gehou nie ).

En Bethulie is nie sommer net só n Dorpie nie – net buite die Dorp is die indrukwekkende DH Steyn-Brug oor die Oranjerivier. Dis n pragtige sandsteenbrug wat mens onwillekeurig laat dink aan n Romeinse Akwaduk – en na bewering is dit tans nog die langste brug in SA ( en sommige beweer in die Suidelike Halfrond.).

Maar Bethulie het ook n hartseer voetspoor in die geskiedenis van die Suid-Vrystaat – want hier is gevestig tydens die Tweede Anglo Boere-oorlog ( 1899 tot 1902 ) die grootste van drie Konsentrasiekampe ter uitvoering van Lord Kitchener se sg “scorched earth policy” en waar hoofsaaklik Vrouens en Kinders ( en ou Mans ) vasgepen is onder betreklik haglike omstandighede. Verskeie siektes het dan ook spoedig uitgebreek soos bv n Maagkoorsepidemie – en tientalle het gevolglik nie die einde van die Oorlog oorleef nie.

Hierdie klein monument is opgerig waar die oorspronklike Konsentrasiekamp geleë was, maar meeste van die grafte moes hervestig word met die bou van die Gariepdam wat hierdie laerliggende gebied met verloop van tyd sou oorvloei.

Die herrinneringe is wel n ent van daar op hoër terrein hervestig – en daar vind ons weer ons geskiedkundige voetspore

My Oupa na wie ek hiet ( mooi ou Hollandse woord nê?!) was n jong Boerseun met die uitbreek van die gemelde Oorlog- en alhoewel hy wou, is hy as te jonk geag om op Kommando te gaan – en so eindig hy dan saam met sy Ma en van sy Susters in Bethulie se Konsentrasiekamp.

Soos klein Johannes te jonk was om te gaan veg vir Vryheid – so was daar ook n Oom wie weer te oud geag is om Volk en Vaderland by wyse van “Perd en Roer” te gaan verteenwoordig. Spoedig bou die twee dan ook n vriendskap op en voel die Oom per geleentheid hy wil iets vir die Seuntjie gee, maar daar is nou nie juis n Winkel in die Kamp nie en dit val buite ” Take a Lot ” se “online” radius ( of is ek nou n paar jaar te vroeg?!).

Maar n Boer maak n plan!

As deel van daaglikse rantsoen is gekondenseerde melk in sulke klein blikkies per trein afgelewer ( dis nou as die Boere nie die brûe opgeblaas het nie – voordat die bekende Blokhuise later opgerig is om die brûe te beskerm ). Vars melk was onbeskikbaar en met Kondensmelk kon die Prisoniers minstens hul koffie en tee geniet.

En so kry daai Oom dan inspirasie om vir Klein Johannes n Koffiebekertjie te maak uit n Kondensmelkblikkie

Daardie Bekertjie het tans n ereplekkie in my Klerekas – en alhoewel ek nog nie Kondensmelk uit hom geteug het ( dalk moet ek dit tóg probeer voor ek heeltemal mooi groot is ) gebruik ek al vir jare die ou Bekertjie om my daaglikse rantsoen van verpligte medikasie en vrywillige aanvullers in af te tel.

En soos ek dit doen besef ek skielik : Elke Dorpie hét sy eie storie en voetspore en herrinneringe – en al is daar slaggate in die Hoofstraat – en al het die Royal Tea Room lankal toegemaak – elke Dorpie bly relevant.

Of dit nou Bethulie of Botshabelo is.

Dis dan hierdie keer se Storie uit Rondebosch.

NS Dankie Philip vir jou hulp met n paar van die Foto’s.

5 thoughts on “Dorpies en Kondensmelk.

  1. Pragtig! Ek is so bly daardie ou bekertjie het konsentrasiekampe/Leeurivier-oppak/Menlopark-oppak & Rowanstraat-oppak oorleef. Voorwaar ‘n monument in die kleine!

    On Sat, 26 May 2018, 13:59 Stories uit Rondebosch wrote:

    > johminna posted: “So sit ek vanoggend en lees weereens hoe vele van ons ou > plattelandse Dorpies oor die algemeen aan die versmoor is en sommer net > irrelevant raak. Dat ikoniese winkeltjies toemaak en slaggate in die > Hoofstraat die norm word kan in die meerderheid van geva” >

    Like

  2. Ek salueer daardie ou bekertjie wat Konsentrasiekampe/Leeurivier-oppak/Menlopark-oppak & Rowanstraat-oppak oorleef het. Voorwaar ‘n monument in die kleine!

    Like

  3. Baie interessant.Ek was self binne in daai konsentrasiekamp en die name het my dadelik opgeval. Het ook op die brug gestop en vir Carin vertel hoe Pa die presiese aantal treë kon weergee tot ons kinders se groot vermaak, want wie tree nou so n lang brug af as jy dit kan ry!😂

    On 26 May 2018 1:59 PM, “Stories uit Rondebosch” wrote:

    > johminna posted: “So sit ek vanoggend en lees weereens hoe vele van ons ou > plattelandse Dorpies oor die algemeen aan die versmoor is en sommer net > irrelevant raak. Dat ikoniese winkeltjies toemaak en slaggate in die > Hoofstraat die norm word kan in die meerderheid van geva” >

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s