Fonteine, Oseane ….. en dies meer.

Sedert Blog #9 ( Platberg of Sponsberg ) het Vlak 6B ingeskop met as resultaat n matige paniek onder Kapenaars.

Die Supermarkte se rakke is leeg van gebottelde water – en Dag Zero klink skielik nie meer net soos n Mad Max rolprent!

Sederdien sing ons dan ook maar ( met apologie aan die ou Volksliedjie ) :

“Mense moenie met die water mors nie – die Kapenaars moet dit drink”

Maar ten spyte van die droogste siklus in 100 jaar ( of altans só sê die Mense op die Bus ) lewer die Fonteine aan die voet van die Sponsberg onverpoos hul bydrae om die Kapenaars se dors te les – dis nou diesulkes wie NIE handdoek ingegooi het en ingekoop het op die riglyn : Spaar water – drink wyn!

By Springsweg ( net af van Kildare in Nuweland – vergelyk weer met die Foto in #9 ) lyk dit tans soos Nagmaal op Noenieput :

Dis egter een ding om die Kanne vol te maak – máár nou moet jy dit by die Huis kry – en teen n kilogram per liter raak so n 20 of 25 liter kan ongerieflik swaar!

Dan moet jou planne egter net nie opraak nie nê :

So 500 meter nader aan die Liesbeek is die welbekende Fontein op die perseel van die SAB ( vergelyk weer met #9 ) – en hier het die sg Waterputters ( soos die ou Hollanders hulle genoem het ) ook eksponensieël dramaties toegeneem

Maar wat my hier nogal beïndruk het is hoe die SAB met empatie na die situasie gekyk het en siedaar – n paar sleepwaentjies met Operateurs is beskikbaar gestel om ( soos die een “Drywer” dit gestel het ) : “Die ou Mense te help om hul kanne by hul voertuie te kry”.

Ek en my Kamermaat was egter op die gegewe oomblik nie lus om in die lang ry te gaan staan nie – en aangesien ons n bietjie tyd op hande het en petrol in die tenk, vat ons toe liewer die pad Betties toe. Hier loop die Palmiet nog sterk en Kleinmond en die omringende kusdorpies het vir die huidige dus geen waterprobleme – soveel so dat die Overstrand Munisipaliteit vir n proeftydperk van n paar maande selfs water gaan loslaat ter aanvulling van die Steenbrasdam!

So sit ek dan op op Betties se stoep en ek kyk na die Groot Oseaan voor my – en onwillekeurig duik die woorde van Samuel Taylor Coleridge op :

“Water, water everywhere …… nor any drop to drink”

( uit : The Rhyme of the Ancient Mariner ).

En ek dink – en ek wonder – en n Seemeeu maak n draai

…. en my gedagtes dwaal na die woorde van Jan FE Cilliers :

Dis die blond

Dis die blou

Dis die veld

Dis die lug …..

en n voël draai bowe in eensame vlug –

dis al.

Dis n Balling gekom oor die Oseaan

dis n graf in die gras

dis n vallende traan –

Dis al.

En terwyl ek my verwonder aan voormelde kom sit n Seemeeu op die rotse hier voor my

…….. en my gedagtes dwaal nog verder en ek dink aan daardie ikoniese gedig van Richard Bach wat so pragtig getoonset is deur Neil Diamond – en ek sit daai musiek op en verluister my weereens aan Anthem uit Jonothan Livingston Seagull

En skielik voel ek rustig in my gemoed – en ek glo die reën sal op sy tyd kom – en dalk sal die Theewaterskloof nog in my tyd ook weer oorloop.

En vir nou – is dit Al.

Groot Honde van die Langpad.

Ek en my Kamermaat hou van Langarm dans en Langpad ry.

Ongelukkig kry ons deesdae bitter min kans vir eersgenoemde – maar gelukkig doen ons nog steeds die Langpad ding. Min of meer so tweemaal per jaar vat ons die Langpad “Noorde” toe – aanvanklik maar vanaf Kaapstad met die N1 – maar die laaste jaar of drie gee ons voorkeur aan die ietwat langer roete deur die Klein Karoo via Graaff Reinet alvorens ons dan eers by Colesberg by die N1 aansluit vir die laaste trek tot in Jozie en SnorCity.

Dis n lang pad per motor en daar is baie tyd om met jou Reisgenoot te gesels, musiek te luister – of sommer net stil te wees en n slag introspeksie te doen. En in sulke stil tye kyk jy dalk met meer andag na die veranderende plantegroei en geografie en wonder jy bv wanneer het dit dan só lekker gereën in die Suid Vrystaat dat die Rooigras só mooi wuif in die Westewindjie?

Maar daar is ook ander waarnemings – Soos bv die geweldige toename die laaste dekade of drie van die groot Langpad vragmotors op ons Nasionale paaie ( en veral op die N 1 ) – die sg Groot Honde van die Langpad.

Soos ons dan die Langpaaie aangedurf het die laaste klompie jare het dit my almeer begin interresseer welke Fabrikate maak ons mee kennis op ons paaie – en later : watter Fabrikate maak die grootste segment uit van hierdie mark en hoe kompeteer die Internasionale Groot Hond vervaardigers om hierdie “been”?

En so – met ons terugrit end laasjaar besluit ek om vas te trap en met die hulp van my Navigator neffens my begin ons tel en rekord hou. Vanaf Johannesburg tot Colesberg is ongeveer 650km via die N1, en vandaar met die N9 tot Graaff Reinet ( waar ons gewoonlik oornag ) is n verdere 200km – n totaal dus van 850km.

Op voormelde roete tel ons dan in totaal 293 Eenhede wat 11 Fabrikate verteenwoordig en wel 8 oorspronklike Nasionaliteite ( sommige soos bv Renault is van oorsprong Frans maar mettertyd oorgeneem deur Volvo ) – en hier is n opsomming van ons bevindings :

1 Volvo is los voor as indiwiduele Handelsmerk met 81 Eenhede oftewel 27% van die mark

2 Mercedes Benz is met n kortkop Tweede : 65 Honde wat beteken 22% van die mark

3 Derde is weer n Sweed nl Scania met 61 Eenhede wat dus beteken 20% van die SA mark.

4 Hierna volg Freightliner ( oorspronklik n Amerikaner maar deesdae lid van die Mercedes stal ) met 26 Eenhede

5 In die Vyfde plek is MAN ( van oorsprong n Pruis en ook deesdae in die Mercedes stal ) met 22.

6 International van Amerika is Sesde met 12

7 Nissan UD ( oorspronklik n Japanees maar deesdae ook in die Volvo stal ) is Sewende met 11

8 Dan volg Iveco van Italië met 6

9 DAF van Nederland met 3

10 Nr 10 is Renault met 2

en

11 In plek Nr 11 is n ou bekende op ons paaie maar nuweling in die Groot Hond mark nl Volkswagen ook met 2.

Wat ons baie interressant gevind het is dat ons géén Oosterlinge ( Chinees, Suid Koreaans en Indies ) opgemerk het nie – wel heelwat in die middelklas vragmotorsegment soos Isuzu, Hino en Tata ( al drie wie ook groot is in die Motor, Vragmotor en Swaar konstruksiebedrywe ) maar duidelik nog nie hier by ons nie. Soos reeds gemeld het hierdie “studie” egter konsentreer op die Groot Honde van die Langpad.

En wat Nasionaliteite betref was Swede loshande voor met 47% van die mark ( bestaande uit Volvo, Renault en Nissan en sterk aangevul deur Scania )

Duitsland is Tweede met 30% bestaande uit die Mercedes konglomeraat ( wat MAN en Freightliner insluit ) plus die nuweling VOlkswagen

Amerika met International kom Derde in met n skamele 4% ( beslis nie America First soos Oom Donald dit wou sien!).

En my konklusie ?

Ons mag wel n Derde Wêreldse land wees – maar minstens wat die Langafstand vragvervoer betref is hierdie segment van ons mark na al die jare steeds Wes Europees gedrewe.

Die tyd sal leer tot hoe n mate dit in die toekoms sal verander – of dalk nie?

Maar vir die huidige is dít my storie vir hierdie keer.

Platberg of Sponsberg?

Ry mens op die agterpad van Grabouw na Franschoek – en jy luister dalk té aandagtig na een of ander meevoerende Musiekie – kan jy jou spoedig verbeel jy het verdwaal.

Want om die volgende draai lyk dit bepaald of jy Sossusvlei benader!

Ja – Dis droog in die WesKaap. En ons grootste Dam nl die Theewaterskloof daar kort duskant Villiersdorp net voordat jy die Franschoekpas van sy agterkant vat, is maar baie soos die Vaaldam in Gauteng : plat en vlak – en in ons geval BAIE leeg!

Genadiglik is daar darem nog n paar ander kleiner damme wat water verskaf aan die dorstige Kapenaars – en gesamentlik kan ons hopelik die volgende reënseisoen haal ( veral ook as La Ninã – soos die slim Ouens voorspel – n positiewe inset sal lewer ).

Maar dan sal ons sekerlik vir nog n hele paar maande heelwat minder water en beslis meer bier moet drink – en waar moontlik ( veral na n bier of drie ) moet die Manne maar soos hul Franse eweknieë wanneer êrens op pad buite die Stad meer gereeld n Pipi Rustique doen.

Dit bring my by my eintlike storie :

Ons bly neffens die Platberg ( Hoerikwaggo het Harry en sy mede Strandlopers dit genoem : Die Berg in die See ) – maar my Kamermaat maak nou die anderdag die opmerking dat die Berg vir haar soos n spons is. Dit versamel water oor n lang tyd – en deel dit dan met wie ookal hom/haar/hulle aan haar voete bevind.

En hoekom sê sy dit?

Stapafstand van ons Berg se kant toe is daar n systraatjie wat heel gepas Springsway genoem is

e

…….. en hier borrel die fonteinwater spontaan en onverpoos uit die grond en voed n sytak van die bekende Liesbeeck.

Hier was tot onlangs net een “formele”waterpunt, maar met ons huidige krisis het n Barmhartige Samaritaan sy/haar beursie oopgemaak en op eie koste die Fontein ietwat beter toegerus.

En nou spuit die vars fonteinwater onverpoos uit meerdere punte – en die mense staan tou om hul kanne te vul ( sommige vertel my hulle doen dit al jare – want die water is glo baie gesond en vol natuurlike minerale )

Bietjie stroomaf van die Springsway Fontein het n paar Entrepeneurs etlike jare gelede raakgesien dat onder andere vars water goed kan saamwerk met mout en hops om bier te brou vir die dorstige Matrose in die Kaapse hawe.

En – “Fast forward” n paar honderd jaar en SAB pronk trots langs Nuweland Rugbystadion aan weerskante van dieselfde Liesbeeck! ( beide Instellings soos ek dit verstaan kort voor lank dalk net n geskiedkundige aantekening – maar dis n storie vir n ander dag ).

Tóg was die Groot Base van die SAB nie onsensitief teenoor diesulkes wie nie juis n affiniteit het vir n Bruis Moutdrankie ( lees : Bier ) – en siedaar! Op hul perseel het hulle nóg n Fontein wat uit die Platberg/Sponsberg dreineer toeganklik gemaak vir Jan en Alleman – en nogal gratis! ( Sien die aanwysing onderaan die Kennisgewingbord )

En só – vanuit die Sponsberg dreineer al hierdie Fonteine ( en nog n paar ander nie eers hier gelys ) via verskeie kleiner sytakke ( bv die Alfred-, Newlands- en Palmboomstrome ) tot in die Liesbeeck.

Die standhoudenheid van die strome het selfs tot gevolg gehad dat n Belegger wie iets anders wou doen ( sekerlik in navolging van die sukses van die Bier Baronne ) n Koeldrankfabriek op die walle van die symste Liesbeeck opge”start” het

En ten spyte van al die voormelde onttrekkings uit die Fonteine en die Liesbeeck, het dit die Agbare Stadsraad reeds jare gelede oortuig om selfs n Pompstasie net stroom af van Nuweland op die walle van die Liesbeeck op te rig

En nou vra jy my – word die Liesbeeck nie leeg gesuig nie, en is daar nog enigsins water wat die see bereik? Veral as dit só droog is?

Wél – Juis vanweë die Sponsberg se konstante fonteine loop die Liesbeeck genadiglik nog steeds. Soms bietjie leër

Soos in Mei 2017 – maar dan val daar weer n paar welkome druppels en kyk nou net! ( 15 Aug 2017 )

Selfs ruim buite ons reënseisoen kruie die Liesbeeck nog rustig seewaarts ( 6 Des 2017 )

Maar dis ook nie net in die Nuweland area waar die Sponsberg so mededeelsaam is nie.

Ry jy links om na Simonstad sal jy in Hoofstraat Kalkbaai die volgende sien

Voormelde is maar net n paar voorbeelde van Fonteine in ons onmiddellike omgewing – maar te danke aan die Sponsberg is daar wel nog meerdere ( ek dink bv aan n historiese een wat tans nog bestaan in Oranjezicht in die Stadskom ).

Ja – Ons benodig steeds BAIE reën – maar nie net om ons damme te vul nie maar ook om die Sponsberg te voed sodat haar Fonteine nog lank sal kan borrel en vloei.

En dis vir nou my storie.

Groetnis uit Rondebosch!

Deur die Rûens na Posberg – met n draai in Tokai.

Ek verbeel my dis die Bybelse Spreuke Digter wie vanmeleë kwyt geraak het dat dit sy verstand te bowe gaan hoe n Voël in vlug kan bly – en ek stem heelhartig saam ( lees egter in hedendaagse konteks : Airbus of Boeing Dreamliner!).


Maar so is daar ook n hele paar ander verskynsels in die alledaagse lewe wat my net so baie verstom – neem bv die soepelheid van die Natuur.

Soos almal weet is dit nou al geruime tyd besonder droog in die WesKaap – en nié net omdat die Bevolkingsgetalle die afgelope dekade of drie dramaties toegeneem het nie. Dít ook – maar veral het dit die afgelope twee jaar vêr onder gemiddeld gereën (sommige kenners beweer dis die droogste siklus in 100 jaar – of iets in dier voege).

Ry ons dan so middel Augustus by n Parkie hier naby ons verby en wat sien jy duidelik?! Die bome is nog vaal en sonder blare – maar die Sneeuklokkies en Watsonias begin al heel vrolik aankondig dat Lente om die draai is :


En om dit te toets vat  ons dan ook so n week of twee later die pad en ry n wye draai en wel deur die bekende Rûens gebied daar in die omgewing van Caledon en Greyton. 

Ten spyte van vêr ondergemiddelde reënval was die Boere van daai geweste dapper genoeg om die Planter agter die Trekker te haak – en siedaar! Canola wáár jy kyk! Dit lyk kompleet of Ou Vincent ( dis nou ons Vrind met die een oor ) oordadig met sy geel verfkwas daar doenig was


Maar om terug te kom by ons Huisie daar neffens die Platberg in Rondebosch ry ons n ompad deur Tokai – en dit wys jou net! Hou net jou oë oop en kyk rondom jou. Ou Moeder Natuur is oral ewe doenig. Wat ons daar raakloop ( of seker raakry?) is beslis nie n Canolaland – maar ek verbeel my maklik net so mooi

Ons is nou só geïnspireerd dat ek en my Navigator ( wie heel toevallig ook my Kamermaat is ) terstond besluit om om voor end September wanneer die hekke sluit n draai te gaan maak in die Posberg Reservaat aan die Suidepunt van die Langebaan Strandmeer om ook daar te gaan kyk of die Natuur die Lente aankondig ten spyt van droogte toestande – en Voila!

Weereens is ek verstom hoe ten spyte van min reën die Bome steeds bot en die blomme steeds blom.

En so het die tweede maand van ons Lente dan stilweg in plek geskuif – Oktober.

Dit laat my dan weer n slag Leipoldt se bekende gedig afstof en herlees  – en ek kannie anders as om dankie te sê vir die reëlmaat en ritme van die Natuur.

En ek sê dankie dat ek deel van Lente 2017 kan wees.
Dit is dan hierdie keer se Storie uit Rondebosch. 

NS Hou duim vas – die bewerings is dat ons eerskomende Dinsdag dalk weer n bietjie reën kan verwag. En Boeta – ten spyte van al voormelde mooi foto’s – ons hét daai reën broodnodig!

Waar is my Mojo ….. ?

My Meisie in Shanghai roskam my nou die anderdag omdat ek laas in die Herfs van 2017 geBlog het.

Hoekom Johannes?!

Ek weet nie Meisie – ek dink ek het seker maar my Mojo verloor

IMG_3669

En dis darem nie iets uitsonderlik nie ….. ek meen te sê selfs ou Christoforus Columbus het per geleentheid die spreekwoordelike spoor byster geraak. Toegegee – hy het op die ou einde darem die Wes Indies ontdek – alhoewel hy oorspronklik oortuig was hy het deur wes te vaar uiteindelik die Spesery eilande van Maleisië en Indonesië ontdek.

Maar my Shanghai Meisie is NIE tevrede met my verskoning nie : Kom aan Johannes! Doen dit net weer ….. en nog n keer ….. en nogeens.

En ek is lief vir daai Meisie – en ek wil haar graag gelukkig maak

IMG_5015

En skielik besef ek : Sy is reg.

Ek hét hierdie Ding oorspronklik begin omdat dit vir my lekker is om sommige gedagtes wat my raak en waarnemings wat my opval te verwoord. En daardie behoefte bestaan steeds. Niks het eintlik verander nie.

Maar soms raak Mens maar die emosionele pad byster en voel jy soos Iemand eenmaal gesug het

IMG_1148

Maar dan …… as jy gelukkig is ( soos ek is ) ….. het jy Iemand wie jou weer kan inspireer en vir jou kan herfokus.

En ek dink – en ek dink laaaank

IMG_1415

 

…… en ek besef weereens : Jy is mos sommer simpel Johannes! Die Lewe is kort – gebruik en benut jou geleenthede en DOEN wat vir jou lekker is.

En ek kyk deur die Groot Bril

IMG_2097

….. en ek sien Iemand waai vir my daar van die rotse af

IMG_4871

…… en die besef dring tot my deur my Mojo is nie nét in China te vinde – maar ook sommer net hier neffens my.

En skielik voel ek of ek nuwe energie het …. en sien ek vele gedagtes en idees wat ek nog wil neerpen.

En ek kyk vêr en wyd

IMG_4916

En ek sê dankie vir my Shanghai en Rondebosch Meisies.

Ek gaan danksy julle beslis NIE weer n Seisoen laat omgaan alvorens ek weer hierdie Ding doen nie.

 

Maar vir nou is dit my Storie vir hierdie keer.

 

 

 

Biskoppe, Poenskoppe en Tobies

Wêreldwyd op land is Mielies, Koring en Rys stapelvoedsel ( en volgens die Suid-Amerikaners selfs ook Quinoa ).

Kuslangs hier by ons lyk dit my vervul Mossels oor n wye spektrum dieselfde rol.

image

Volgens die Kenners kom daar 5 soorte Mossels aan die SA kus voor, maar die Bruin Mossel ken ek glad nie en die Wit Mossel en Perdemossel is “sandkruipers” ( maw hulle lewe in die sandbanke tussen die hoog- en laagwatermerke waar hulle hoofsaaklik deur Hengelaars uitgehaal word om as aas te gebruik ).

Maar Boeta! Kom jy op die rotse dan sien jy hoe geil sit die Swart- en Europese- of Bloumossels ingepak

image

En bykans almal smul aan hierdie “oes van die see” bv die Wit Mosselkraker ( in die volksmond bekend as die Witbiskop ) en sy nefie die Swart Mosselkraker ( ook bekend as die Poenskop )

image

Maar kort op voormelde se hakke smul die Weskus Krewe ook heerlik aan n Mosseltjie of twee – en so ook daai “Outjie” met die groot oog, papegaaibek en sy 6 arms nl Oom Seekat.

Om nie te vergeet van die pragtige Swart Tobie wat ten spyte van sy Engelse naam nl Black Oystercatcher ook n besondere voorliefde het vir n sappige mosseltjie

 

image

En nadat al voormelde “aangesit” het vir n Feesmaal – lyk dit so

image

Maar nog is dit het einde niet! Homo Sapiens het spoedig ook deel geword van hierdie voedselketting van Seekos Connoisseurs

image

( Red : Dit kan wel bevestig word dat hierdie MosselPlukker heel getrou jaarliks haar permit by die plaaslike Poskantoor gaan hernu. Teen net onder R100 per jaar reken sy dit bly n winskopie ).

Om egter die Mossels te “pluk” is een ding – maar om hulle reg te kry vir die pot is n annerlike ding! Daai baarde moet gepluk word – en glo my vry dis harde werk

image

Maar met doelgerigdheid en deursettingsvermoë kom mens wel daar, en nou is die mossels reg om in die spreekwoordelike Pot gedompel te word

image

 

Griki het al vir ons n heerlike tradisionele Mosselpot op die stoof gemaak – die sg Moules marniére waar jy die Mossels “flash fry” in n bietjie botter, seldery, uie en witwyn.

Ons loop egter nou die anderdag n deurwinterde  Visserman raak daar op die rotse, en gee hy ons toe die wenk om die vars skoongemaakte Mossels sommer in die mikrogolf te druk vir 2.5 minute – en siedaar! Dis n Wenner!

Op dié manier is die Mossels gaar, maar daardie onmiskenbare smaak van die See is steeds daar

image

Na hierdie smaaklike Mosselslaai – afgespoel met n koel droë Chenin – debatteer ons wanneer doen ons dit weer?

En die MosselPlukker neffens my sê : Wat’s fout met môre?! Die Getye is reg – met laagwater kom jy makliker by die grotes uit – en ons is besig om in die Wintermaande in te beweeg.

Want sien – die MosselPlukker se ervaring oor n paar jaar het haar tot die slotsom laat kom dat in die Somermaande is die vleis van die Mossels veel kleiner. Maar kom die laat Herfs en Wintermaande – dan is hulle beslis groter en so lekker plomp soos in ons Slaai.

Toegegee – beslis nie so groot soos daai wat jy soms in n “Seafood Platter”  by n Reataurant kry nie – maar dan proe hulle minstens nog soos See en hoef jy hulle nie toe te gooi onder een of ander roomsous ten einde die kartonsmaak te verdoesel nie.

Gee my enige tyd n “wilde” Mossel pas van die rotse gepluk en net skrikgemaak in die Mikrogolf – Soos my sussie Marieta sou sê : HjuRRlik!

 

En dit is dan hierdie keer se storie.

 

 

 

 

Kanonne,Trekkers en BellaDonna #2

Die Trekker se remme het toe wel gehou, die blou Hoed het nie afgewaai nie en so vat ons toe die langer pad terug Swellendam toe nl via Barrydale waar ons stop vir n Koffie of iets dergeliks

image

Gelukkig is Kobus se voertuig se tenk vol genoeg want ek wonder hoe vêr ons op Paraffien sou kom?!

En genadiglik is daar geen nodigheid vir meganiese verstelling – want die eindresultaat blyk onseker te wees

image

Onsself was egter bereid om die Diesel en Crème Bistro uit te probeer – waar Marinda egter die oordadige gasvryheid van die Platteland oorskat het

image

… en moes ek hand ( of eintlik mond ) bysit om haar te help met hierdie konkoksie.

Gelukkig was die strooitjie ekstra dik – en die eindresultaat was heel smaaklik.

Tussen Barrydale en Swellendam is seker ( altans vir my ) een van die mooiste Bergpasse in ons Land nl die Tradouwpas deur die Langeberge.

Wat ek egter nie geweet het nie, is dat bykans halfpad deur die Pas syfer helder onbesoedelde bergwater tussen die varings deur die veenmos – en hier het Iemand per geleentheid n paar lengtes PVC geutpyp in die berghang gedruk en siedaar : Water om ons dors te les!

image

Op links het Iemand n modifikasie gedoen van die oorspronklike model – n stukkie plastiese pyp is eweneens in die berghang ingedruk en Marinda se botteltjie was binne oomblikke vol met heerlike koel soet bergwater.

Ongelukkig ( soos Einstein eenmaal versug het ) is tyd relatief – en ons moes weer n slag ons belange gaan beskerm daar waar ons bly by die Platberg wat met sy een voet in Tafelbaai staan.

Ons ry egter anderkant om en verkyk ons op pad na Robertson aan die rye rooi Kannas wat langs die pad die wingerde omsoom

image

Ankers! Gooi anker Johannes!!!

Kort anderkant Robertson word ons afgetrek – maar gelukkig nie deur n Verkeersman nie

image

maar wel die VerwelkomingsKomitee van die Affie Plaas Padstal

image

en hier koop ons pragtige vars Waterblommetjies

image

en belê ek in n paar interressante wyne wat ek uitsnuffel in die rakke van die baie besondere klein WynBoetiek – o.a.

image

Die BellaDonna is versny uit vier rooiwyn kultivars en vernoem na die Maartlelie ( Amaryllis Belladonna ) wat ( ja – reg geraai! ) in Maart n algemene gesig in die WesKaap is – selfs op die middelman van die M3 tussen UK en Kirstenbosch.

Terug aan Huis herkou ons al die interressante dinge wat ons gesien en goed wat ons ervaar het – maar wat op die ou einde wat uitstaan is

image

die waarde van kwaliteit Vriendskap.

Dankie Kobus en Brenda : Ons kom beslis weer kuier!

En dit is vir nou my storie.

Kanonne, Trekkers en BellaDonna.

Hoe gemaak as n Seilskip van ouds na n reis van etlike maande vanaf Europa kom vasmeer by die Kaapse Hawe – en daar is nie lekker Varsprodukte om in te skeep vir die res van die reis?

Plan : Stel die Boere in die Platteland in kennis hulle moet hulle se waens laai en haas na die Hawe aan de Waterkant van Kaapstad.

Probleem :  Die N2 is nog net n kronkel grondpad en Ossewaens het nie beskik oor Turbo-aanjaers. Hoe gemaak om die boodskap van die Boot in die Hawe so gou moontlik by die Produsente uit te kry?

Dis die 1700’s en die Internet met sy vertakkings van FaceBook en Twitter is slegs die droom van Wetenskapfiksie Skrywers.

Dus – Hoe gemaak?!

Maklik. Skep n reeks van kanonne – strategies geplaas op heuwels vanaf Seinheuwel in Kaapstad

image

 

kuslangs tot selfs so vêr as Swellendam ( vandag met die N2 meer as 200 km vanaf die Moederstad!).

En die kanonne bulder – die boodskap versprei en die waens is op pad!

So vat ons dan onlangs dieselfde pad om te gaan kuier by Vrinne in die symste Swellendam. Maar Kobus was nie verniet in sy vorige lewe n Geskiedenis Onnie nie –  Hy en Brenda wag ons in net anderkant die afdraai na Stormsvlei ( tussen Riviersonderend en Swellendam ) om uit te wys dat daar – langs die pad ( ongelukkig op privaat grond en bietjie versteek agter lang gras ) is een van die voormelde netwerk van Kanonne

image

Na hierdie verrassende ontdekking was dit dan ook gepas om ( soos talle Transportryers van ouds ) af te draai en n “oorbrugginkie” te gaan nuttig by die Stormsvlei Bistro ( voorheen bekend as die Stormsvlei Hotel – en soos die bekende Houwhoek Inn naby Grabouw een van die oudste Herberge op hierdie “wagen weg”)

image

 

Hendrik Swellengrebel was die eerste Suid Afrikaans gebore Goewerneur van die destydse Kaap die Goeie Hoop – en heel gepas is ons uiteidelike bestemming nl Swellendam vernoem na hom en sy Wederhelf Helena van Damme.

En benewens dat Swellendam die derde oudste Magistraatsdistrik in SA is – was dit ook een van die eerste radikale pogings om te ontsnap van die sg “Kaapse Juk” van korrupte bestuur deur die Amptenare van die VOIC ( het enigiets sederdien verander?! Ek vra maar net ).

Die Republiek van Swellendam word dus gestig in 1795 – maar is egter van korte duur en kom tot n einde met die besetting van die Kaap in 1802 deur Groot Brittanje.

Ons is weereens beïndruk hoe n pragtige plek is Swellendam – geleë aan die voet van die Langeberge

image

Binne trefafstand van Swellendam is ook Montagu – en in dié se buitewyke op die pad na Touwsrivier en net daar waar die Burgerspas sy draaipunt maak vind jy die afdraai na Protea Plaas ( na ses geslagte steeds in die Burger Familie se besit ) en waar ons uitgenooi word om n vierwiel Trekker en sleepwa te bestyg ten einde op te kruie na die hoogste punt van die Langeberge.

Maar o wee – Marinda het haar gordel ( vir dié wie ek nou verloor het : ook bekend as n belt ) by die huis vergeet. Waaraan gaan sy haar geliefde Kamera hang?

En sy soek – selfs in die Boer se Stoor : maar daar kry sy niks wat sal werk – net Baaldraad,Bloudraad en Doringdraad.

Gelukkig kom Kobus tot haar redding – hy bemerk n stuk tou wat dalk kan werk en siedaar! Nou kan  selfs die Drakensberge maar kom

image

 

Almal nou gereed?! En daar kruie ons teen die berghang uit totdat ons by die halfpadmerk al hoër is as Tafelberg!

image

Heelbo het ons n ongelooflike uitsig : Ons is op die kruin van die  Langeberge en aan die oorkant is die Waboomberge – en dit vorm vanaf Montagu tot kort duskant Touwsrivier n vallei bestaande uit die sg Keisie en die Koo

image

Die Keisie lê Montagu se kant toe, is duidelik laer en is dus blykbaar meer geskik vir druiwe ens.

n Trappie hoër is die Koo vallei – veral bekend vir steenvrugte soos Perskes, Appelkose, Appels en Pere

image

Net voordat ons egter die afdraand aandurf word ons trakteer op n glasie waarvan David Kramer ons jare gelede bewus gemaak het : Montaguuu …. Ons drink jou Muskadel!

image

( Redakteur : Marinda vertrou klaarblyklik nie die trekker se remme met die afrit !).

Daar was n paar maande terug n verwoestende brand in die omgewing en gevolglik is die berghange kaal. Die Proteas neem blykbaar ses jaar om weer te kan blom – maar die natuur is soepel en n bietjie reën sal sekerlik sorg dat die res van die veld spoedig herstel.

En dan is daar natuurlik sommige bolplante wat eintlik net blom na n brand. Noem dít nou n simbiose!

image

Die sg Brandlelie ( Cyranthus ventricosus ) het oral dapper deur die barre aarde gebeur en ons vermaak.

 

Ons sal graag weer die Trekker bestyg – veral na die veld genoegsaam herstel het. Blykbaar is Laatwinter perfek om die Proteas in hul volle glorie te aanskou.

 

NS En die BellaDonna in die Aanhef?

Lees volgende keer verder.

 

Kuier by die KapélMeester #2

Die Donkie is aldus wyle Oom Chris Blignaut ( en meer onlangs Vusi Mahlahlela ) beslis n wonderlike ding.

Getem in Egipte so lank terug as 3000 vC ( ek wonder of Josef een vir sy 21ste gekry het )  het hy ten spyte van sy hoogdrawende naam nl Equus Africanus Asinus spoedig n Wêreldburger geword – soveel so dat Vaaltyn hom met verloop van tyd selfs in die Tankwa gevestig het :

image

Die KapélMeester en sy assistent Nina voer lekkernye vir Vrystaat en Kleintjie-Meis.

Die name waarmee Donkies ( veral in die Karoo ) toegerus word kan n Aflewering op homself wees – maar vergun my om in hierdie verband te volstaan met n storietjie wat ek al meermale oorvertel het :

Dana Snyman woon die jaarlikse Donkiekar Resies by gereël deur die mense van die Tankwa Padstal – en hy vra vir Oom Mike Doman hoekom sy een Donkie dan genaamd is Brander?

En hy antwoord : “Brander het ek Brander genoem – omdat ek hom Brander wou noem. En toe noem ek hom Brander”.

Sela.

Maar indien Vrystaat en Kleintjie-Meis op n dag onwillig is om ingespan te word is daar gelukkig alternatiewe vervoer op Klein – Kapél

image

Wurgie was die sg “Deal breaker” toe die KapélMeester nog gewik en geweeg het of hy wel Klein Kapél moes koop – en daar bel die vorige Eienaar en bied aan dat Wurgie ingesluit is by die Koopprys.

En soos hulle sê : The rest is history!

Maar soms wurg Wurgie hom letterlik tot stilstand in die dik sand van die Gemsbokrivier se droë lope – en dan moet mens maar voetslaan terug naar den Huis

image

En so n lopery maak mens honger en dors – en wat is n beter rede om die twee Skaapkoppe wat André spesiaal ingekoop het in die stoof te druk.

Gelukkig het die twee Outjies vroegtydig al begin son skep om vroegtydig te ontdooiimage

en met n bietjie sout en peper ingevryf tesame met n smeertjie olyfolie en suurlemoensap is hierdie twee Nommertjies slaggereed (sic ) om vir die volgende drie uur gesellig saam te kuier in die Defy Ruby Houtkoolstoof.

Drie ure is egter lank en soos Oupa Andries altyd gesê het : n Oorbrugginkie sal nou darem nie sleg wees nie – en gelukkig is ons net betyds om vir Hannie Hen te verjaag voor sy ons berowe van die Roosterkoek wat toe net gereed is op die buite braai

image

en ons luister na Chris van den Berg se Road to Freedom ( trakteer jouself en luister gerus weer n slag na die intro nommer When winter comes )image

asook Shawn Phillips en Magna Carta.

 

So flits drie ure verby – en die Smiley’s is reg! Die Manne vat elkeen n knipmes, hervul sy glasie Rooiwyn en trek n Jammerlappie nader – en Kêrels! Toe smul ons behoorlik – selfs die Vrouens het op n stadium hul Varklies opsy geskuif en kom peusel aan n stukkie skaapwang en tong.

image

 

Maar aan  alle goeie dinge kom egter ( ongelukkig ) ook n einde – en die volgende môre is ons vir oulaas trakteer op n Pizza a la KleinKapél

image

terwyl Nina afskeid neem van Bella met die hoop dat ons dit spoedig weer sal kan doen.

image

 

Met die terugrit besef ons : “Yster” naweek sal vir ons nooit weer dieselfde wees nie.

 

 

Ons kuier by die KapélMeester #1

image

Die Karoo is groot – Baie groot. Ietwat groter as Duitsland – en in ons ou Landjie strek dit oor vier Provinsies ( of is dit deserdae Streke genaamd?).

En om dit meer verstaanbaar te maak vir Jan en Alleman het die mense ( dalk dié op die Bus – of andersins die Hooggeleerdes ) hierdie moerse stuk grond opgedeel in areas/streke – noem dit wat wat jy wil.

Eerstens is daar die Groot Karoo – Dis nou die deel Noord van die Swartberge – en dan ten Suide daarvan die Klein Karoo.

En dan gaan ons verder en deel dit op in in meer spesifieke areas :  Soos bv Die Koup, of die Moordenaars Karoo. En dan is daar rondom Beaufort Wes die Vlakte Karoo. Naby Calvinia ( genoem na daai bewaker van ons sedes en norme Johannes Calvyn ) die Hantam Karoo.

En dan is daar die Tankwa Karoo – daardie area tussen Ceres en Calvinia – na bewering die droogste deel van die Karoo.

En dis waarheen ons op pad was die afgelope Paasnaweek. Want Broer Bertus het n paar jaar gelede vir hom n lappie grond in die Tankwa gekoop – net so oor die 100km Noord van Ceres op die Ceres – Calvinia grondpad. Daai langste reguit grondpad in ons Land – wat berug is vir sy veeltal papwiele – ons noem dit sommer die Wit Pad weens die wit oppervlak en enerslykende stofstrepe wat die hordes 4×4 Voertuie opskop.

Ons verkies egter om links te kap in Ceres en via Prins Alfred se Hamlet ( ek sien die Woordeboek noem dit heel tereg n Klein Dorpie – maar ook n Gehuggie. Ek wonder wat Prins Alfred sou sê van sy nalatenskap in “sunny South Africa?).

Vandaar oor die Gydo Pas ( en wat n pragtige terugblik oor die Ceres Vallei!).

Insetsel : Hier wil ek n Foto gesit het van die terugblik op die gesegde Vallei – maar ek sukkel om dit reg te kry😫. Ek sit dit dus in n collagé aan die begin – maar hopelik “next time!” Kry ek dit reg.

En dan by nog n kleiner Gehuggie genaamd Op die Berg draai ons regs en ry ons oor die Katbakkiespas om die aansluiting te maak met die voormelde Witpad.

En soos ons die laaste hoogte oorgaan en afdaal na die vlakte sien ons die stofstrepe – en ons weet : dis die WitPad – en die ikoniese Tankwa Padstal is binne bereik!

Bertus en Carin wag ons in by die Padstal – en oor n Mout Bruisdrankie vertel Bertus dat met hul aankoms loop hul Jan Bitterbos Nawater raak. Hy het met sy Donkiekar daar opgeruk om net gou n paar “giffies” weg te slaan met die oog op die Langnaweek.

En hy groet Bertus as volg : Môre Meneer – Geseënde Yster.

( Dit is darem na alles die begin van die Paasnaweek – oftewel “Easter?!”).

Die son begin egter spoedig water trek – en ek raak kriewelrig want die eerste aand is my en Marinda se Kookbeurt – en Klein Kapél is nog bykans 30km en 5 plaashekke vêr.

En so Sleep ons laatmiddag in op Klein Kapél se werf – n stukkie Tankwa hemel tussen die plase NuweFontein en GrootKapél ( en g’n wonder dan hoekom Broer Bertus se epos naam gevolglik die KapélMeester is nie ).

En die wydte en die stilte is betowerend.

NS In die volgende Episode maak ons nader kennis met Vrystaat en Kleintjie-Meis en bak ons Skaapkop in die oond.

Geniet intussen die Foto’s wat ek soos n goeie Sosatie tussenin wou plaas – maar weens tegniese onvermoë moet julle dit nou maar teug en geniet soos n na Ete Likeurtjie.

Groete uit Rondebosch.

.